Sluit Aan
Teken In
Sluit Aan
Teken In

10 Redes waarom jou kind na stories moet luister

Hannekie Verwoerd

Februarie, 2024

“Moenie maak soos ek maak nie, maak soos ek sê” is ‘n fout wat ons as ouers dikwels begaan. Ek neul oor die deurmekaar kaste en kamers terwyl my eie hopie opgevoude wasgoed nog op die vloer in die aantrekkamer staan. Ek maan die kind teenoor my om met ‘n toe mond te kou terwyl ek self kos in my mond het. Ek betreur die feit dat my kinders sulke slegte selfdissipline openbaar wat skermtyd betref, maar ek het die aand vantevore veel langer lê en lees as wat goed was vir my.  As ons ons kinders aanmoedig (dreig, smeek, blinklek, omkoop) om ‘n boek te vat en self te lees sonder dat daar vir hulle voorgelees is, maak ons dieselfde fout.

Om stories te luister is ‘n baie belangrike deel daarvan om ons kinders te begelei in die proses van lief raak vir boeke en self lees. Sonder die noodsaaklike taalvaardighede van woordeskat en luistervermoë wat so uitmuntend deur storie luister gevestig word, is boeke lees niks lekker nie. Net harde, harde werk…

Hier is tien redes waarom jou kinders na boekvoorlesings moet luister:


Dit stimuleer woordeskat


Dit stel jou kind bekend aan komplekse taalkonstruksies wat nie in gesproke taal gebruik word nie


Verbeter leesbegrip


Ontwikkel ‘n gebalanseerde mens


Dit maak jou luisterfiks sonder dat dit soos werk voel!


Skep gedeelde ervarings


Dit dien as ‘n bron vir gesprekke


Dit bevorder algemene kennis


Dit verbreed jou ervaringswêreld


Dit maak kinders lief vir lees


1. Dit stimuleer woordeskat

Om ‘n woord werklik goed genoeg te leer ken dat jy dit kan gebruik in gesprekke, moet jy dit baie, baie kere hoor. Wanneer ons ons kinders na stories, veral die voorlesing van boeke, laat luister, word hulle aan baie meer woorde blootgestel as wat moontlik is wanneer ons slegs met hulle gesels.


2. Dit stel jou kind bekend aan komplekse taalkonstruksies wat nie in gesproke taal gebruik word nie

Taalgebruik in die geskrewe vorm verskil van gesproke taal gebruik. Die sinne is langer en saamgesteld, volg nie die voorspelbare doener-werkwoord patroon nie, meer voor- en agtervoegsels en samestellings kom voor en abstrakte konsepte is baie meer algemeen. Blootstelling aan hierdie soort taalgebruik is noodsaaklik as jy vordering wil maak op akademiese gebied.


3. Verbeter leesbegrip

Wanneer jou kind gereeld geskrewe taal voorgelees hoor, stel dit haar in staat om lang, komplekse sinne makliker te ontsyfer wanneer sy dit self moet lees. Dit help haar verder om ‘n aanvoeling vir frasering en intonasie te ontwikkel, wat bydra tot leesbegrip.


4. Ontwikkel ‘n gebalanseerde mens

Lewe te midde van die tegnologiese revolusie bring mee dat ons kinders se visuele sintuig baie meer gestimuleer word as enige ander sintuig. Om na stories te luister dien as ‘n uitstekende manier om die brein ook aan inligitng vanaf ‘n ander sintuig bloot te stel.


5. Dit maak jou luisterfiks sonder dat dit soos werk voel!

Jou brein raak fiks vir luister soos wat ‘n mens se spiere, hart en longe fiks raak vir hardloop. Talle onderwysers en ouers kla vandag dat kinders nie kan luister nie. Wanneer ons nie ons kinders aan luisteraktiwiteite blootstel nie, kry hulle breine nie die geleentheid om hierdie belangrike vaardigheid te oefen nie.  

Verder is oefen om te luister soos fietsry. Om dit te bemeester moet jy opklim en ry! Hoe meer jy oefen om fiets te ry, hoe beter kry jy dit reg. Totdat jy op ‘n dag nie meer jou Pa se hand agter die saal nodig het nie en nog ‘n paar maande later die kantwieletjies kan afhaal. As jy dit een keer bemeester het en geoefen het om dit regtig goed te doen, word luister soos asemhaal - dit word ‘n outomatiese aksie wat nie inspanning van jou eis nie. En dan raak luister lekker! Eers dan is stories luister ‘n plesier. Luister dus saam met jou kind na stories en lees saam met hom boeke sodat die luisterwerk deur julle samesyn ‘n plesier raak. en dan gee jy hom ‘n ”stootjie” en hy geniet dit solo!

6. Skep gedeelde ervarings

Stories wat saam voorgelees of geluister word vorm deel van ‘n gesin se unieke saamwees-ervaring. Dit bind hulle tot ‘n eenheid en maak deel uit van kosbare herinneringe van gedeelde tyd.


7. Dit dien as ‘n bron vir gesprekke

Daar is min dinge wat kinders so aanmoedig om vir jou iets te vertel as ‘n lekker fliek wat hulle gekyk het. En daar is min ouers wat dit geniet om deur die vertelling te luister. 

Die visuele aard van films maak dit moeilik om die storielyn samehangend oor te vertel. ‘n Lekker luister-storie of voorlesing kan makliker weergegee word en gee aan ‘n kind die geleentheid om stories of dele van stories terug te vertel en so sy mondelinge taalgebruik effektief te oefen.

8. Dit bevorder algemene kennis

Min mense vind die memorisering van droë en ontwortelde feite plesierig. Indien mens slim kies, kan mens deur middel van stories jou kinders blootstel aan geskiedenis, geografie, ander kulture, die plant- en dierelewe en mense van belang (om maar ‘n paar temas te noem). Kinders is van nature nuuskierig oor die wêreld waarin ons woon. Wanneer ons hulle belangstelling oor ons wonderlike wêreld kan prikkel met boeiende stories, is hulle sonderling ontvanklik om meer daaroor te leer.


9. Dit verbreed jou ervaringswêreld

Deur stories kan kinders belewenisse hê wat in hulle huidige leefwêreld nie altyd moontlik is nie. Saam met die karakters in stories kan hulle avonture beleef en emosioneel groei. Leer om hulleself in iemand anders se skoene te sit en leer om hulle in ‘n situasie in te dink.


10. Dit maak kinders lief vir lees

Vir die afgelope paar dekades bestaan daar al kommer oor kinders wat al hoe minder daarvan hou om te lees. Talle pogings word aangewend om kinders aan die lees te kry, maar dit is nie in alle gevalle suksesvol nie. Wanneer ons ons kinders na stories laat luister (veral wanneer ons self vir hulle voorlees), help ons nie net hulle breine om die nodige voorgeletterdheidsvaardighede te ontwikkel nie, ons leer hulle ook om boeke en die stories daarin lief te kry – ‘n groot motiveerder om te leer lees.

Met www.luistervinkstories.co.za kan jy as ouer beheer neem van jou kind se luisterontwikkeling. 180+ voorlesings van goeie Afrikaanse kinder- en jeugboeke.

Help jou kind met Luistervink Stories.

Daar is geen ouer wat wil hê dat hul kinders moet sukkel nie. Luistervink Stories is 'n uitstekende hulpmiddel wat die ontwikkeling van taal- en luister vaardighede versterk. Dit is bewys dat kinders wat na stories en rympies luister, makliker leer lees en hulle self-leesvaardighede verbeter. As jy wil hê dat jou kinders die beste kans moet hê om te floreer met hulle skoolwerk, moet jy beslis Luistervink Stories oorweeg.

Hoof

Ander

Wettigings

KOPIEREG © 2024. Alle Regte Voorbehou. 

Webtuiste deur Cloudstream Funnels

Help jou kind met Luistervink Stories.

Daar is geen ouer wat wil hê dat hul kinders moet sukkel nie. Luistervink Stories is 'n uitstekende hulpmiddel wat die ontwikkeling van taal- en luister vaardighede versterk. Dit is bewys dat kinders wat hierdie programme gebruik, makliker leer lees en hulle leesvaardighede verbeter. As jy wil hê dat jou kinders die beste kans moet kry om te floreer in die skoolomgewing, moet jy beslis Luistervink Stories oorweeg.

Hoof

Ander

Wettigings

KOPIEREG © 2024. Alle Regte Voorbehou. 

Webtuiste deur Cloudstream Funnels

Jou mandjie is leeg Gaan voort
Inkopie Mandjie
Subtotaal:
Afslag 
Afslag 
Sien Besonderhede
- +
Uitverkoop