“Vandag se kinders kan nie meer praat nie!  Dit spoel soos ‘n vloedgolf oor ons,”  merk ‘n gr.0 onderwyseres nou die dag teenoor my op. En ek moet dit beaam.

“Wat is ‘n windpomp?”  vra ek aan Lizettie

“Dit is ‘n uuuuhhhm…. Dit is ‘n ding, met ‘n …..uuhm, ding op uuhm…..  sy ding.”

Klassiek.

Teen hierdie muur gaan ‘n kind haarself telkens vasloop.  As jy nie genoeg woorde ken nie, kan jy nie verwag om samehangende verduidelikings te gee of sinvolle gesprekke te voer nie.

En daar is maar net een manier vir woorde om in jou kind se koppie te kom en dit is deur haar ore.

Woordeskatontwikkeling word gestimuleer deur na taal te luister.  Die gesprekke van die grootmense in jou omgewing is jou eerste bron van taalblootstelling as jy ‘n baba is.  Die liedjies wat Mamma vir jou sing, die gesprekkies wat sy met jou voer wanneer sy jou bad, jou doek omruil, jou in die kar laai…

Boekies is die volgende groot bron van woorde vir die jong kind.  Eers net prente waarna gekyk en oor gesels word en sommer baie vinnig daarna eenvoudige stories.  Stories met herhaling wat mens maklik self kan terug vertel wanneer jy nog net 2 jaar oud is.

En dan… regte boeke met regte stories.  Nêrens in die wye wêreld van woorde, kan jou kind so gekonsentreerde taalmedium vind nie.  Wanneer ons vir ons kinders stories lees, is hulle soos visse wat in oseane vol woorde rondswem.

Die verrassende is dus… as ons wil hê dat ons kinders goed moet kan praat, moet ons hulle eers baie, baie, baie laat luister.  En aanhou om hulle te laat luister selfs al kan hulle al mooi praat en self lees.

Ek wil jou uitdaag om te gaan nadink oor hoeveel woorde jou kind elke dag hoor.  En wat die bron is waaruit sy moet put om haar woordeskat mee uit te bou.  Hier is ‘n paar aspekte om in gedagte te hou:

  • Hoeveel Afrikaans hoor my kind en hoeveel Engels?  Ja, sy mag beide hoor! Maar hoor sy GENOEG Afrikaans?
  • Wie is my kind se primêre taalbron? Die juffrou wat sy met 20 maatjies deel? Die maatjies wat self nog besig is om taal te ontwikkel?
  • Hoeveel gesprek vind plaas tussen my en my kind?  Is daar elke dag nuwe dinge en nuwe woorde in ons gesprekke? Of gaan elke dag se gesprekke oor dieselfde roetine dinge?  Voeg ek m.a.w. woorde by by my kind se woordeskat wanneer ons gesels.
  • Hoeveel van haar wakker tyd word in beslag geneem deur skermtyd?

Ek wil jou verder uitdaag om met ‘n oop gemoed na jou kind se woorde te gaan luister.

  • Kan sy vrae samehangend beantwoord?
  • Gebruik sy die regte woorde? Of is sommer alles waarmee sy skryf ‘n “pen” en sommer alles waaruit sy drink ‘n “glas”?
  • Kan sy rympies en liedjies onthou en sê.  Sommer vir die pret?
  • Hoeveel Engelse woorde hoor jy wanneer sy Afrikaans praat?
  • Voel jy gereeld verbaas oor nuwe woorde wat sy gebruik?

As ek jou vandag onkant betrap en jy jou nou sit en bekommer oor jou kind se taalontwikkeling wil ek jou net weer herinner:

As jy wil hê dat jou kinders goed moet kan praat, moet jy hulle eers baie, baie, baie laat luister.  As jy beskuit uit die blik wil haal moet jy dit eers bak en daar inpak – INPUT before OUTPUT.

Luistervink Stories is daar om te help.  Die voorlesings op die Luistervink Stories webblad is deur ‘n groot verskeidenheid goeie skrywers geskryf – jou kind tap as’t ware groot Letterkundiges se breine vir nuwe woorde.  Wat wil jy nou meer hê?!

https://luistervinkstories.co.za/sluit-nou-aan/ gee al die inligting oor hoe om aan te sluit en Luistervink Stories as taalbron vir jou kind oop te sluit.