Wanneer ons saam stories lees, duik daar dikwels vrae op oor dinge waarvan ons in die storie hoor.  Belangstelling gaande gemaak, het ek nou ‘n gulde geleentheid om my kinders se algemene kennis uit te brei.  Al wat ons hoef te doen, is om saam op ‘n soektog te gaan na die antwoorde op hulle vrae.  Kennis op die manier opgedoen, word veel beter behou as wanneer ons ‘n klomp feite oor iets waarin die kinders glad nie belangstel nie, oor hulle koppe uitstort.

Dit is die beginsel agter temastudies.

Wanneer ek ookal die geleentheid kry om vanuit ‘n storie ‘n spesifieke tema aan te spreek, skryf ek ‘n stuk teks oor die onderwerp – maklik genoeg vir my drie jongstes (8jr,10jr en 12jr) om te verstaan – en gaan soek ek na foto’s en bypassende videomateriaal.  Hierdie temastudies maak deel uit van die diens wat Luistervink Stories lewer.

Maar wil jy graag sien hoe dit regtig werk?

Hier is nou ‘n lekker pasella…

Luister saam na Die Muisboot (deur Paddy Bouma) en geniet daarna die bypassende temastudie oor kanale en kanaalsluise saam met jou kinders.  As julle daarvan hou is daar nog ‘n hele klomp lekker temastudies op die Luistervink Stories webwerf beskikbaar waarmee jy jou kinders se algemene kennis kan uitbrei.  Toegang tot die temastudies is deel van die maandelikse lidmaatskapfooi van R100 wat jy betaal om die 100+ stories in ons skatkis te kan luister.

Wat is die tipe inligting of algemene kennis waarmee ons te doene kry in boeke en waarmee temastudies gedoen kan word?

  1.  Geografiese inligting

Sommige verhale speel af op plekke wat werklik bestaan.  Die afgelope ruk lees ek vir my kinders die Lafras Kuyper stories van Karel Kielblock voor.  In hierdie boeke hoor ons van plekke soos Mauritius, Indië, Madagaskar, Die Kaap die Goeie Hoop, Simonstad, Indië en Batavië.  Alles in een boek!  Dol op die hoofkarakter, is hulle ewe skielik die ene aandag as ons die aardbol of wêreldkaart uithaal om te sien waar hierdie plekke is.  En dan sleep ons vir Google in en gaan kyk na foto’s van hierdie plekke en miskien ‘n video of twee oor hoe dit daar lyk en is.  Natuurlik gaan hulle nie na een keer onthou waar Mauritius is nie, maar omdat hulle nuuskierig gemaak is deur die storie, gaan die naam Mauritius en ‘n feit of twee daaroor vassteek.  Gaandeweg bou ons vir hulle ‘n kapstokke in hulle koppe waaraan volgende inligting kan vashaak.  Voor jy jou oë uitvee, het jou kind, sonder om te leer vir ‘n toets, ‘n klomp feite in sy kop versamel.

2.  Geskiedkundige inligting

Skrywers is lief daarvoor om ‘n geskiedkundige gebeurtenis wat die verbeelding aangryp, as basis te gebruik vir ‘n storie.  Stories wat afspeel tydens die Groot Trek, die Anglo-Boere-oorlog, die Amerikaanse pionierstydperk, die Middeleeue, die Franse Revolusie ensovoorts, maak geskiedenis vir kinders lewendig en skep die lus om meer van die geskiedkundige agtergrond tot die storie te wete te kom, omdat die lotgevalle van die karakters ons so aangryp.

3.  Inligting oor ander kulture en lewenswyses

‘n Storie oor ‘n seun in Japan, of ‘n Eskimokind in Groenland of ‘n Indiaankind op die Amerikaanse grasvlaktes, gaan jou kind se aandag vestig op die feit dat nie alle mense soos ons lewe nie en dat nie alle mense dieselfde gewoontes of gelowe het nie.  Sensitiwiteit en respek vir ander kulture begin daarby dat mens kennis neem van die feit dat verskillende volke in verskillende omstandighede leef en verskillende uitdagings in hulle dag tot dag bestaan beleef.  Terselfdertyd kan jou kind in ‘n storie oor ‘n kind uit ‘n ander land die ooreenkomste tussen mense beleef.  Nak, die jong Eskimokind in Groenland, word ook hartseer as sy Pa sterf.  Tsjieng-tieng van Taiwan se Pa moet hom ook leer om verantwoordelik te wees.  Vanuit so ‘n storie kan ons ook gaan ondersoek instel na disse en kookkuns uit ander kulture en meer leer oor hoe mense in ander lande lewe.

4.  Uit die dierewêreld

Ons het nou al vele male nadat ons ‘n storie oor ‘n dier (‘n see-otter, ‘n ratel, ‘n kamwaaiermossel, ‘n rooivalk, ‘n valkuil, ‘n brulpadda) gelees het, die internet geraadpleeg en op die interessantste feite en videos oor so ‘n dier afgekom.  Onthou hulle inligting op hierdie manier geleer beter?  Verseker!  En met Luistervink Stories se temastudies, doen ek die soekwerk vir jou!

5.  Wetenskaplike of Wiskundige inligting

Juis vanoggend het ons die omtrek en oppervlak van die eiland Mauritius bereken nadat ons daarin gelees het dat die eiland rofweg 40 myl lank en 30 myl breed is.  En wat is die verskil tussen ‘n myl en ‘n kilometer.  Dus was daar ook geleentheid vir ‘n paar omskakelsomme.