“Ons het drie nuwe troeteldiere!” sê Karel selfvoldaan vir my met die intrapslag na die vakansie.

“Raai wat dit is,” sê hy met blink oë.

“Uhm,” sê ek, maar hy spring my voor met ‘n leidraad.

“Twee se naam begin met ‘h’,”.

“Honde?” raai ek ewe dom.

“Nee, dis nie gewone diere nie!”. Hy kan nou byna nie sy opgewondenheid beteuel nie.

“Dis hase, maar een het escape. Hy het ‘n gat onderdeur die draad gegrou.”

Ek byt op my tande en begin nie met my gewone ritueel van …eintlik is escape ‘n Engelse woord en in Afrikaans sê mens bla bla bla… hierdie kind is te opgewonde om nou na my taalrelaas te luister.

“En raai wat is die ander een?”

Gedagtig aan die ongewoonheid van die nuwe troeteldiere sê ek: “Skilpad?”

“Hoe het tannie geweet?!” kom dit oorbluf van hom.

“Ek weet maar sulke goed,” sê ek ewe en voel heimlik getroos oor die escape wat ek moes laat verbygaan het.

“Maar ken jy die liedjie van die skilpad?” vra ek en trek los met:

Daar loop ‘n skilpad in die pad

Ek tel hom op

Hy maak my nat

Ek sit hom neer

Hy doen dit weer

Ek vat my Pa se haelgeweer

En skiet hom middeldeur.

Tot my groot konsternasie, sing hy toe nie saam nie.  Kareltjie ken nie Daar loop ‘n skilpad in die pad nie!

Waarom is dit? Sou dit wees dat hierdie liedjie met sy (wel dalk verstaanbare) grusame geweld teenoor die skilpad nie meer polities korrek is om te sing nie?  Dat ouers vandag beter opgevoed is as wat my arme ouers was?

By nadere ondersoek blyk dit nie die geval te wees nie.  Karel ken geen rympies nie.  Nie eens Oupa en Ouma sit op die stoep nie!

Want sien, Karel se mamma het vergeet dat mens kinders ure lank kan vermaak deur bloot vir hulle rympies te sê en liedjies te sing.  Daardie tyd toe hy ‘n klein babatjie was en sy hom in haar arms aan die slaap gesus het, het sy vergeet van Slaap kindjie slaap en  Baba Swartskaap het jy baie wol. In alle waarskynlikheid was sy op haar foon besig terwyl sy hom gesus het.

En toe Karel ouer word het sy ouma en sy mamma vergeet om hom op hulle knieë te laat perdjie ry en handrympies soos Handjies Klap, koekies bak of Wielie Wielie Walie te laat speel.  Oor en oor.

Miskien het hulle gedink dat die kleuterskool dit met hulle kosbare kindjie gaan doen, maar vergeet dat die oppassers in die babaklas oorwegend nie hulle kind se Moedertaal praat nie…

Rympies en liedjies maak deel uit van ‘n familie se storie.  Elke gesin het sekere dinge wat hulle uniek maak.  Die liedjies wat ons vir ons kinders sing is een van daardie dinge.  Iets wat ons deel en wat ons aan mekaar verbind.

Daar is rympies en liedjies wat ek by my Ma en Ouma geleer het, wat niemand anders ken nie.  Variasies op Ek ry met my rooi motorkar wat net in ons huis gesing is.  Woorde wat by die aanhoor of die sing daarvan, my my Ouma so goed laat onthou dat ek haar langs my kan voel.

Die krag van sulke gedeelde herinneringe bind ons kinders met bande van liefde aan ons vas.  Dit laat hulle onthou dat ons lief genoeg vir hulle is om tyd met hulle te spandeer.  Dat ons lief genoeg vir hulle is om iets van onsself aan hulle oor te dra.

Maar daar is ander maniere om dit aan ‘n kind te kommunikeer, sou jy sê.

Miskien.

Maar die brein se reaksie op liedjies en rympies maak dit ‘n besondere effektiewe manier om goeie herinneringe te skep.  Wanneer ons rympies en liedjies hoor en saamsê, skei ons breine endorfiene af.  Enige iemand wat al Wielie Wielie Walie met sy 2 jarige gespeel het, sal weet dat die kind telkens opkom en sê “Nog!”.  Ons breine hou van rympies en liedjies.  Dit laat ons lekker voel.

Verder is daar nie ‘n meer doeltreffender manier om jou kind se brein kans te gee om die klanke wat sy Moedertaal uitmaak te ontdek nie.  Elke stukkie klankherhaling, ritme en rymwoord wat sy ore en brein binnegaan, bring jou kind nader aan die punt waar hy self kan hoor dat boom met /b/ begin, vis ‘n /i/ in die middel het en dam en ram amper presies dieselfde klink.  Vaardighede wat hom in staat gaan stel om  te leer lees: fonologiese bewustheid.

As jy vandag besef dat jou kinders nie eintlik liedjies en rympies ken nie, wil ek jou aanmoedig om so bietjie te gaan rondgrawe in jou herinneringe aan jou eie kleintyd.  Al die kleuterrympies en -liedjies wat  jy ken, moet jy aan jou kind oordra.  Vra ouma om te help dink en te help sing.  Hou die TV eers bietjie af.  Moenie die radio in die kar aanskakel nie.  En begin vir jou kind rympies sê en liedjies sing.

Om te help hiermee het ek begin om ‘n paar goue oues uit my kinderdae vir julle op te neem.  Dit is beskikbaar op die Luistervink: rympies en gedigte afdeling wat hierdie week die lig sien.  Gaan skud bietjie daardie herinneringe los.  Ek wed jou jy sal nog ‘n hele klomp kan byvoeg by die wat ek op http://www.luistervinkstories.co.za het.