Hoekom is dit belangrik om te kan hoor dat Krokkenoster bestaan uit krokodil en renoster?

Om met woorde te speel is pret en wanneer ons dit doen slyp ons as’t ware aan ons woordeskat, maar daar is veel meer as pret in ‘n aktiwiteit soos hierdie opgesluit.

Om woorde binne-in woorde te kan hoor, moet daar ‘n hele klomp goed in jou kind se kop gebeur het.  Hy moet woorde in lettergreepverband uitmekaar kan haal (ouditiewe analise) en dan moet hy die verband tussen die deeltjie en die geheel kan hoor (ouditiewe sluiting).

Op sigself is daar nie veel hieraan nie.  Wat baie meer betekenisvol is, is hoe hierdie vaardighede saamspan om die leesproses en die spelling van woorde vir ons makliker te maak.  Verder weet ons dat ouditiewe prosesseringvaardighede soos ouditiewe sluiting en ouditiewe analise nie ewe skielik een oggend as jou kind opstaan uit die bed uit, deel uitmaak van sy intellektuele gereedskap nie.  Nee. Dit ontwikkel uit jou kind se gehoorblootstelling aan sy Moedertaal.  Hoe meer sy ore hoor en die klankinligting na die brein aanstuur, hoe beter ontwikkel die brein se klankverwerkings-fabriek – ‘n fisiese area in die brein waar neurone lekker dik saampak en konneksies met mekaar vorm om ‘n stewige net te vorm waar klankinligting aanmeld om verwerk en geïnterptreteer te word.  As hierdie deel van jou kind se brein nie goed ontwikkel is nie, is hy ‘n soos ‘n vis op droë grond in situasies waar luister vereis word.  Die oor doen sy merkwaardige werk uitmuntend en lewer die boodskap aan die grys stof af, maar daar tussen die skraal draderige konsentrasiekamp-neurone bly dit dan soos misnewels hang wat verdamp sodra die volgende sensoriese boodskap aanmeld vir interpretasie!

Die feit dat jou kind dus kan hoor dat ‘n deeltjie van krokodil wegkruip in krokkenoster sê dus aan ons dat sy ore en brein al heelwat saamgewerk het en dat hy ‘n goeie kans het om lees en spelling nie te moeilik te vind nie.

Hoe help my ouditiewe area se werk my dan om te lees en spel?

Lang meerlettergrepige woorde kan nie geklank word nie, maar moet stukkie vir stukkie gelees word.  Kinders by wie ouditiewe analise vaardighede nie voldoende ontwikkel is nie (omdat hulle nie genoeg van hulle Moedertaal gehoor het nie, weereens) vind dit baie moeilik om te weet waar hierdie afbakenings lê – hulle het min natuurlike aanvoeling vir die ritme van klinkers en medeklinkers in woorde en lees dan maklik bet – ek – en in plaas van be – te – ken.

Tegelykertyd ontwikkel die kind by wie daar robuuste ontwikkeling van die ouditiewe area in die brein is, ‘n wete dat woorde uit woorde kan bestaan.  Voorskoolse kinders is bewus hiervan sonder dat hulle kennis dra van terme soos basiswoord en voegsels en dit maak lees ongetwyfeld makliker.  Hoe anders weet ons dat ons moet lees stap-oe-fe-ning en nie sta- poef – en – ing nie?

Natuurlik sal jy sê, ons kyk na die res van die woorde in die sin!  En hier kom ons terug by ouditiewe sluiting.  Wanneer ek ‘n sin lees en een van die woorde se betekenis is nie aan my bekend nie, kan ek uit die res van die woorde in die sin ‘n redelike akkurate afleiding van die betekenis maak.  Verder stel ouditiewe sluiting my in staat om moontlike woorde wat kan volg in die sin vooruit te skat.  Dit maak die las op my dekoderingsfunksie heelwat ligter, want in plaas daarvan dat ek elke liewe woord moet ontsyfer, kan ek skat wat die volgende woord gaan wees en net seker maak dat dit is wat ek gereken het dit moet wees.  Hier lê die geheim van leesspoed – akkurate vooruitskattings maak lees baie vinniger.  Anders as raailees waar ek lukrake woorde aan my gehoor opdis sonder om enigsins te luister of dit wat ek lees sin maak, is die vooruitskattings gemaak met ouditiewe sluiting berekende keuses wat die ontbrekende deel van die sin voltooi.

In Die Pikkewouters van Amper-Stamperland deur Marie Heese speel die skrywer lekker rond met nuutskeppings uit bestaande woorde.  Daar is ‘n Likkedis, Krokkenoster, Koggeljaan en wie weet wat nog.

Hier is nou nog ‘n paar sulke woorde.  Hoe vining kan julle raakhoor watter diere gebruik is om die nuutskeppings te vorm?

Sien hierdie as speel.  Die werklike bou aan jou kind se ouditiewe area kom deur baie voorlees en minder skermvermaak.

Spinnelapper      sjimpioen   akkegaai    blouwildefant     spinnegaai

Bobbewyn           pikkejaan            krokogaai            likkedil                 pikkemander          spinnerilla           bobbefant           kangejaan

Pikkegaai             bobbenoster       blouwildedil        likkemander        sjimpanfant          bobberilla            akkenoster skerpijaan

Krokostruis          sjongorilla           pelikonda            akkejaan              krokokonda          spinnekaan         pikkenoster

Gaan luister na Die Pikkewouters van Amper-Stamperland by www.luistervinkstories.co.za.  Volg die maklike stappe om aan te sluit by die KRY DIE WAGWOORD knoppie op die tuisblad.