‘n Kleuterskoolonderwyseres laat weet my nou die dag hoe sy vir haar leerdertjies Die wolf en die sewe bokkies laat kyk het op die Luistervinkstories webblad. Hulle het vasgenael gesit voor die rekenaar en toe die storie verby was wou hulle dit dadelik weer luister.

Dit het my so laat dink aan hoe ek vir my derde spruit Die gemmerkoekmannetjie vir ‘n volle twee weke lank elke aand moes voorlees. Hy was in verrukking daaroor. Ek was reeds teen die vyfde aand al effens naar as ek die eerste reëls lees, maar die seuntjie langs my op die bank wou die storie oor en oor op presies dieselfde manier weer hoor. Toe ek dit regtig nie meer kon hou nie, het ek een aand voorgestel dat ek eers Die Rooi Hennetjie en dan Die gemmerkoekmannetjie lees. Daarna moes ek vir die volgende twee weke elke aand Die Rooi Hennetjie lees…

Alhoewel dit mens moedeloos kan maak wanneer jy ‘n storie oor en oor moet voorlees, gee die herhaling van dieselfde storie jou kind se brein die geleentheid om elke krieseltjie stimulasie wat daar uit ‘n spesifieke boek geput kan word, te absorbeer.

Ons breine leer deur herhaling. Elke keer wanneer ons ‘n sekere woord hoor of ‘n sekere handeling uitvoer, word dit beter in ons breine vasgesement deurdat daar stewiger koppelings tussen die breinselle (neurone) vorm. Wanneer kinders stories by herhaling hoor, word woordeskat op hierdie manier vasgesement.

Maar baie meer as net woordeskatvaslegging vind plaas. Terwyl jou kind na die storie luister, fokus sy brein ook op die wisseling in jou stem se toonhoogte (intonasie), die manier waarop woorde in sinne gebruik word, die ritme van die taal en klankherhaling. Al hierdie inligting word weggebêre om later te help met die formulering van sy eie sinne wanneer hy gesels en wanneer jou kind self leer lees, vorm hierdie bron van geluisterde stories ‘n basis waarop hy sy eie leesvaardighede bou.

Kinders kan selfs die betekenis van onbekende woorde leer deur net oor en oor na dieselfde storie te luister. Deur na die res van die woorde in die sin op te let, kan hulle die onbekende woord se betekenis gaandeweg begin aanvoel.

Verder leer hulle deur herhaaldelik na dieselfde storie te luister hoe stories werk. Hoewel hulle nog nie die konsep van “storielyn” met woorde kan omskryf nie, kan daar in hulle eie vertellings waargeneem word dat volgorde beter hanteer word en dat ‘n bassiese spanningslyn na vore begin kom. Wat weereens jou kind wanneer hy skool toe gaan en nuus vir juffrou moet vertel (en punte kry daarvoor!) gaan help om die taak sinvol af te handel.

Wanneer jy dus vanaand inskakel op die luistervinkstories webblad se storiekanaal en junior wil AL WEER Die drie ramme rof hoor, kan jy gerus ‘n riel in jou kombuis dans… daardie brein is besig om te leer!