Ons taalvermoë is so inherent aan ons menswees dat ons dit dikwels as vanselfsprekend aanvaar dat alle mense (en ook ons kinders) sommer vanself oor hierdie vaardigheid beskik. Omdat taal ‘n absoluut sentrale rol speel in jou kind se vermoë om te leer lees en gevolglik akademies te vorder, is dit belangrik om te verstaan hoe jou kind taal ontwikkel. Anders bestaan daar ‘n moontlikheid dat jy jou kind se taalontwikkeling onwetend gaan saboteer en wie van ons wil nou ons kinders in die voete skiet?

Taal is baie meer as PRAAT. Taal is al die woorde in ons koppe, meer nog: dis al die reëls op grond waarvan ons woorde inspan; dis ook die klanke wat ons gebruik om ons taal te besig – en dit verskil natuurlik vir elke taal. Taal kan op verskillende maniere gebruik word. Jy kan dit praat, dit skryf, dit met gebare wys en in dit DINK en LEER. Jy kan daarna luister en dit verstaan.

As ons nou sê dat taal deel is van ons menswees, word mens met taal gebore?

‘n Baba word sonder ‘n enkele woord in haar kop gebore. Sy word wel gebore met die ingeskape vermoë om taal te ontwikkel en dit doen sy ook vanaf die oomblik dat sy die eerste leweslig aanskou. Hoe kom die woorde (en die weet hoe om woorde in sinne in te span) dan in haar kop?

‘n Mens se brein het ‘n koppelvlak met die werklikheid – ‘n manier om dit wat aan die buitekant is, te laat inkom en hierdie koppelvlak is jou sintuie. Deur sintuiglike ervaring word die brein geleer wat die wêreld is en deur sintuiglike ervaring word die brein verander sodat die kind kan leer hoe om toepaslik op die wêreld te reageer.

So leer die brein bv. wat gravitasie is: waar is bo en waar is onder, hoe voel dit om te rol, te val, regop te kom, vorentoe te beweeg…Of hoe aanraking voel: sagte vat, druk, vryf, room smeer en raps. Die brein leer ook hoe dit voel wanneer spiere en gewrigte aksies uitvoer – hoe hard mens kan byt voor jou mamma hard skree en hoe hard mens kan vat voor ‘n eier breek. Niks van hierdie ontwikkeling gebeur vanself nie. Dit word alles deur die brein se interpretasie van sintuiglike inligting bepaal.

Vir hierdie rede is dit baie belangrik dat ons sal let op die verskeidenheid en tipe sintuiglike stimulasie waaraan veral ons babas en peuters, maar ook ons kleuters en groter kinders, blootgestel word. Jou kind moet met alle soorte sintuiglike ervaring (beweging, tas, smaak, reuk, gehoor, visie) te doene kry om sy brein te help om optimaal te ontwikkel.

Om woorde in ‘n baba se kop in te laat kom is daar drie sintuie wat ‘n rol speel: visie, tas en propriosepsie-sin in die mond en GEHOOR. Daardie baba wat so sonder woorde gebore word – sy lê al van 20 weke gestasie af en luister na die geluide aan die ander kant van jou buikwand! Nadat sy gebore word, is die gehoorsisteem binne ‘n kwessie van ure op en aan die gang en die brein aan’t voere met sintuiglike inligting.

So lê die baba in haar wieg, in haar waentjie, in jou arms en luister na die klanke van haar wêreld. Sy hou veral van stemme. Sy hoor haar mamma praat en sy sien haar mamma se mond beweeg. En haar brein sê… “so klink dit en so lyk dit.”

Terwyl die brein so besig is met die analisering van sintuiglike inligting, begin die baba haar lyfie self beweeg – eers net kriewel, dan rol, dan sit en later kruip, waggel, loop, draf, spring, huppel en dans. Die spraakorgane beweeg ook deur hierdie progressief ingewikkelder reeks bewegings en so begin ‘n baba geluide maak, later toonhoogtewisselings en volume-verstellings uittoets en op ‘n heel georganiseerde en patroonmatige metode toetsbestuur sy elke deel van haar spraakmeganisme en pas haar brein die geluide wat by haar mond uitkom by dit wat in die omgewing gehoor word. En haar brein sê… “so klink dit en so voel dit!”

Na sowat 12 maande, het die brein genoeg sintuiglike inligting ingeneem en genoeg aan die meganisme getoets om betekenisvolle een-woord uitings te kan formuleer en produseer: “mamma”, “ta-ta”, “doe-doe”. En ‘n kort tydjie later, het die brein genoeg taal gehoor om te weet dat, in die geval van Afrikaans, sinne op ‘n onderwerp-werkwoord patroon geformuleer word en dat hy dus kan sê: “baba doe-doe” en “pappa ta-ta”. Teen die ouderdom van drie het die brein agtergekom hoe om voorsetselfrases aan te las – “in die bed” of “op die gras” en teen vier jaar kan die kind saamgestelde sinne met voegwoorde formuleer.

Baie slim! So wat is jou werk?

Moet ons taallesse met ons babas en peuters doen om hulle bewus te maak van die byvoeglike naamwoord en die gebruik van die woordjie “se”?

Nee! Jy moet met jou baba en peuter en kleuter en kind PRAAT! Maak seker jy gee jou kind se brein goeie kos. Sing vir die baba liedjies, sê vir haar rympies, gesels met haar en LEES vir haar BOEKE. Bêre jou selfoon en skakel die TV gereeld af. Gee vir haar hope geleentheid om jou gesig te sien beweeg terwyl jy praat. Voer haar met woorde en haar baie slim brein sal self die res doen.

Www.luistervinkstories.com help ouers om hulle kinders se ore met goeie taal te vul deur ‘n aanlyn voorlees diens te verskaf. Sluit aan en gee jou kind se gehoorstisteem die geleentheid om haar brein met WONDERLIKE WOORDE EN SINNE TE VOER.