Mens droom baie kere, wanneer jou kinders nog klein is, van al die boeke wat julle saam gaan lees en hoe lekker dit gaan wees om jou gunstelinge weer in die biblioteek te ontdek en dit nogmaals saam met hulle te geniet.

Dan word jou spruit ouer, die baba word ‘n peuter en die peuter word ‘n kleuter en jy dink dis nou die tyd, maar o wee! Sy stel nie in boeke belang nie…

En storielees tyd is ‘n straf vir die Ma en die kind en dit gee so ‘n gestoei af om by die laaste bladsy uit te kom dat jy maar eerder die aftog blaas. Buitendien, troos jy jouself, is boeke oudtyds en alles gebeur vandag tog op skerms – selfs skoolhandboeke is dan op tablette, wil jy nou meer!

Maar in jou hart der harte is jy nie so seker nie… want die kind moet steeds leer lees, nie waar nie? En lees gaan saam met boeke – of dit nou papiere is wat jy omblaai in jou hand of ‘n blad is wat jy omvee op ‘n tablet.

As jy stoei met storietyd en eintlik voel dat dit wel belangrik is om vir jou kind te lees, maar jy weet net nie waar en hoe om te begin nie, het ek vandag vir jou hoop. Kom ek sluit vir jou ‘n paar geheime oor voorlees oop.

Hoekom is voorlees belangrik:

  • Dit stel jou kind bloot aan goeie taalgebruik en brei sy woordeskat en algemene kennis uit.

  • Dit maak die taaltenk vol – eers wanneer jou kind genoeg taal gehoor het, kan fonologiese bewustheid ontwikkel – ‘n vaardigheid waarsonder jou kind nie gemaklik self sal leer lees nie.

  • Dit oefen jou kind om inligting in te neem deur sy gehoorsintuig. Dit leer hom om te luister.

  • Dit moedig visualisering aan.

  • Dit berei hom voor om die tipe taalgebruik in boeke te verstaan – dan kan hy met begrip lees.

  • Dit help hom om lang en komplekse sinstipes onder die knie te kry.

  • Deur met boeke te doene te kry, ontwikkel kinders se metalinguistieke vaardighede – hulle begin verstaan dat prente en letters nie dieselfde is nie en dat ons op ‘n ander manier betekenis kan oordra met letters.

  • Deur met boeke te doene te hê, verstaan kinders WAAROM ‘n mens moet leer lees. Die kind vir wie daar voorgelees word, is baie meer gemotiveerd om self te leer lees, omdat hy verstaan dat lees vir hom die wonderlike wêreld van stories en boeke kan oopsluit. Dit leer hom hoe stories werk, sodat hy self later stories sal kan vertel en opstelle sal kan skryf.

Wat kan ‘n mamma doen om haar kinders lief te maak vir boeke: Hoe verwesenlik mens dan nou hierdie droom van jy en die kind met die boek op die bank as die klein blikskotteltjie die hele tyd wegrem en van die bank af wegwurm en nie wil stilsit as jy vir hom ‘n storie wil lees nie? Die geheim lê daarin om die regte boek te kies. Ek het al die gesoutste boekehaters sien swig… glo my: daar ís ‘n boek wat jou spruit se aandag sal hou. Hier is ‘n paar wenke. Waar om te begin Wanneer jou kind nog baie jonk is, voordat hy self kan praat, gebruik ons boeke nie om stories te vertel nie, maar eerder om gesprek aan te moedig. Daarom is die eerste soort boeke waaraan jy jou baba blootstel, nie storieboeke nie, maar prenteboeke. Mens blaai saam deur die boek en kyk saam na die prente en gesels daaroor. ‘n Tipiese gesprek tussen die Ma en haar baba klink dan so: Ma: Kyk die vissie! Baba: reageer op mamma se woorde deur ‘n geluidjie te maak, en as sy ouer is te probeer naboots wat mamma sê. Ma: Vissie swem! Wanneer ons geselsboeke saam met ons babas kyk, laat ons die baba toe om beheer te neem van die boek en ons gesels oor die prente waarin die baba belangstelling toon. Heelwat prenteboeke moedig die kind aan om in interaksie met die boek te tree en sal flappies hê wat kan oplig of interessante materiale waaraan daar gevoel kan word. Die volgende stap is om jou peuter bekend te stel aan die idee dat ‘n boek ‘n storie kan vertel en dat mens dit dan op ‘n spesifieke manier gebruik – die bladsye een op ‘n slag omblaai en dat daar op elke bladsy basies dieselfde woorde gesê word. Wanneer jy jou kind hieraan wil bekendstel, is dit baie belangrik om ‘n boek met ‘n herhalende storielyn te kies. Vir die peuter sal dit ‘n boekie wees soos “Waar’s Otto” deur Eric Hill. Kinders is mal daaroor om te kan antisipeer wat gaan gebeur. Dit laat hulle veilig en slim voel en maak boeklees vir hulle lekker. Baie kartonboekies vir peuters is op so ‘n herhalende tema gebou: lammetjie soek haar mamma en op elke bladsy is haar mamma nie te vinde nie, maar wel ‘n ander plaasdier. Op die laaste bladsy word die spanning opgehef en word moeder skaap en baba lam verenig (en hulle het lank en gelukkig saamgelewe ;)). Wanneer ons hierdie soort kartonboekies lees, hoef mens nie presies by die teks op die bladsy te hou nie, maar kan die mamma die sinne korter of langer maak om by die peuter se aandagspan aan te pas. In die boek “Waar’s Otto” kan die mamma die teks bv. so aanpas: Eerste blootstelling: Waar’s Otto? Dis nie Otto nie! Later van tyd: Waar’s Otto? Is hy in die kas? Nee! Dis ‘n stoute apie wat piesangs eet! Met hierdie soort boekies geniet die peuters dit vreeslik om self die storie te “lee”. Gee dus gerus die boek vir jou kind en vra dat hy die storie vir jou sal lees. Of gee bloot die ruimte daarvoor en dit gebeur dalk sommer vanself! Indien jou peuter boeke op hierdie vlak leer ken en geniet het, is die weg gebaan vir die volgende stap. Nou begin ons regte stories lees. Boeke met ‘n herhalende storielyn is steeds verkieslik. Dit is nou stories soos: Die gemmerkoekmannetjie, Die drie varkies en Die rooi hennetjie. Jy sal egter net ‘n klein bietjie tyd in die biblioteek hoef te spandeer om sommer nog hope sulke boeke met ‘n herhalende storielyn te kry. Is my kanse nou vir ewig verby? Wat staan mens te doen indien jou kind nie as baba en peuter boeke op hierdie manier leer ken het nie? Moet mens nou maar moed opgee en vrede daarmee maak dat jou kind nooit boeke as opwindend en plesierig sal ervaar nie? Begin weereens met prenteboeke of geselsboeke en gee baie beheer aan die kind. Laat hom toe om te bepaal waaroor julle gesels. Daar is wonderlike prenteboeke vir ouer kinders beskikbaar. Dit moet trouens altyd deel bly uitmaak van jou kind se boekervaring. Voorbeelde van prenteboeke vir ouer kinders is die boeke van Richard Scarry en Pieter Spier. Verder is dit baie belangrik – veral as jy vir ‘n relatief nuwe luisteraar lees – om op te let na die hoeveelheid teks op die bladsy. Te veel woorde gaan Boeta moedeloos maak en dan is al die pret daarmee heen. Kies ‘n boek met nie meer as twee of drie sinne per bladsy nie en maak seker dat daar op elke bladsy illustrasies is. Vermy aanvanklik eerder boeke wat op gewilde films gebaseer is. Hierdie soort stories het ingewikkelde en verweefde storielyne en neem gewoonlik langer as tien minute om voor te lees. Boeke wat in minder as drie minute voorgelees kan word is ideaal. Lees gerus dieselfde storie oor en oor as hy op hierdie stadium van die resies slegs een gunsteling boek het. En lees dit elke keer dieselfde voor. Dieselfde woorde op dieselfde bladsy – hulle hou van voorspelbaarheid, onthou! Moet dit hierby bly? Wanneer voorlees deel begin uitmaak van julle gesin se roetine en jy lees daagliks vir jou kinders voor, sal hulle aandagspan en luistervermoë gaandeweg rek. Soos wat ons ons liggame oefen en fiks maak, word jou kind se brein geoefen en fiks gemaak wanneer jy vir hom voorlees. Dit beteken dat jy later van tyd sal kan aan beweeg na boeke wat minder prente en meer woorde het en later boeke met geen prente nie wat as vervolgverhale voorgelees kan word. Hou egter altyd aan om ‘n verskeidenheid van boeke aan te bied. Dit kan ewe lekker wees om styf teen Mamma met ‘n eenvoudige storie met baie prente te kan ontspan en ander kere weer op die punt van jou stoel vasgenael te sit en wag vir die ontknoping van ‘n senutergende vervolgverhaal. Lees ook gerus boeke met ‘n feitelike tema voor. Iets oor treine of hoenderhokke bou of die teel van Poedels – wat ook al jou kind se belangstelling prikkel! Voorlees is verder ‘n uitmuntende manier om ‘n tweede taal by jou kind te vestig en sal op ‘n baie meer effektiewe wyse as TV en flieks jou kind help om Engels op ‘n akademiese vlak baas te raak. Maak tyd vir voorlees met jou kinders. Daar is min dinge wat vir jou kind beter kan wys dat jy bereid is om jou tyd vir hom op te offer, wat vir hom wys dat jy tyd met hom wil spandeer, dat jy lief is vir hom as wanneer jy saam met hom tot stilstand kom op die bank, ‘n boek vat en dit vir hom lees.En dan nog een en nog een… Naskrif: Dit gebeur soms, as gevolg daarvan dat kinders so ‘n groot hoeveelheid van hulle dag voor en op skerms spandeer, dat hulle dit moeilik vind om hulle aandag te fokus op aktiwieteite wat nie skerms betrek nie. ‘n Mens moet die kind dan mak maak vir boeke en hom leer dat daar wel ook plesier te vinde is in die blaaie van ‘n boek en dat genot nie beperk is tot skerms nie. Dit is die moeite werd om jou hiervoor te beywer, want hoewel jou kind dit nie weet nie, smag sy brein na ‘n groter verskeidenheid sensoriese stimulasie en is die oormatige blootstelling aan skerms besig om sy breinselle op maniere te snoei en te struktureer wat sy vermoë om te leer kan beskadig. ‘n Goeie plan is om jou kind dan d.m.v. ‘n skerm aan boeke bekend te stel deur hom op www.luistervinkstories.com ‘n boekvoorlesing te laat kyk en luister en hom daarna die werklike boek in die hand te gee, sodat hy dan daardeur kan blaai. Die meeste van die boeke wat op die webblad beskikbaar is, sal deur jou plaaslike biblioteek bekom kan word.